Albert stap ‘n lang pad met film en televisie en word vandag nog onthou vir sy vertolking
van die karakter, Herman Roodt in “Konings”, (1991 Skrywer: Paul C Venter.) Hy word
vereer met ‘n Artes-toekenning vir “Beste Akteur in ‘n TV-reeks” vir sy spel in die
opvolgreeks “Torings”. Nog ‘n reeks van Paul C Venter waarin Albert homself onderskei
as die Nederlandse dominee is, "Arende" - waar hy speel teenoor Gavin van der Berg
en Ian Roberts. Hy word volksbesit as die burgemeester, posmeester en stasiemeester
in ‘n advertensie vir Klipdrift. Al wat hiermee kers vashou, is advertensies waar
hy as RSG doeane-beampte die skape met die gesteelde bakkie deur die beheerpunt laat,
of waar hy as Lawrence Anthony die Coronation olifant se slurp om sy nek kry. (Hierdie
materiaal is eg; nie kunsmatig versin nie).
80 suksesvolle opvoerings van die Charles J. Fourie eenmanstuk “Stander” - word verewig
met die televisieverwerking, waarin Albert ook speel. Die werk is baseer op die amperse
kultusfiguur van kapt. André Stander, en sy lewe as bankrower .
Albert beskou die Charles J. Fourie teks as ‘n briljante juweel in ons teaterskat.
Die opvoering self , met Albert in tientalle vermommings en rolle, verwerf kultusstatus.
Hy is gereeld te sien in hordes heruitsendings - o.a. van "Egoli", “Galery”, "Orion",
"Konings" en "Torings". Albert was in Engelse reekse soos 'Africa PI', 'Home Affairs',
'Khululeka', 'Isidingo'en 'Feast of the Uninvited'. Gewilde Afrikaanse reekse met
hom in is "Buurtwag", "Vloeksteen", "Sewende Laan", “Vallei van Sluiers” en "Thomas
@". Hy vermy die kalklig. Hy wys onlangs weer 'n jaarkontrak as hoofkarakter in 'n
top sepie van die hand.
Hy vervaardig en regisseer programme soos “Groot, Groter as..., N. P. van Wyk Louw”,
Elders aan Diens”, “Wyk en die Meisies” vir TV, vervaardig en regisseer ook, “Roots”
- ‘n dokumentêr oor die internasionale kultuurfees te Universiteit van Wes-Kaap.
Hy regisseer die oorspronklike episodes van die TV reeks “Impresario”, en ontvang
saam met Neil Sandilands die ATKV Veertjie vir hierdie trotse breinkind van hom.
Die reeks handel oor die Suid-Afrikaanse radio-, film- en teaterbedryf, soos gesien
deur die oë van ons legendariese akteurs en vervaardigers- talle waarvan Albert reeds
sedert kindsbeen mee skouers skuur.
In sy kas bêre hy ure lange filmopnames van projekte, wat begin het met sy vyf musiektoere
vir o.a. Johannes Kerkorrel, na vele stede en veral plattelandse dorpe.
Sy versameling bevat ook verskeie verhoogproduksies - o.a. met Pedro Kruger en Franci
Swanepoel op toer. Albert was self nog tot onlangs ‘n deeltydse dosent.